BETHLEHEM-EUREKA SE GESKIEDENIS


Onder die bekwame leiding van ds Johan Gebhardt van Bethlehem-Wes gemeente,  na indringende besprekings en voorbereidings,  is daar op ‘n koel wintersaand op die 10de Junie 1966 in Bethlehem-Wes se statige gebou,  hierdie nuwe gemeente gebore.  Bethlehem-Eureka sien die lig met 480 lidmate.  Afstigting het plaasgevind!  Olv di C Hattingh,  L Nel en PC van Rooyen word 42 kerkraadslede verkies.


Met groot entoesiasme en opgewondenheid vind die eerste erediens op Sondagmôre 12 Junie 1966 in die Hoërskool Voortrekker se saal plaas.  Die verkose kerkraadslede word ook by hierdie geleentheid in hulle ampte bevestig.  Op 19 Junie 1966 word,  olv die konsulent,  ds J Steyn van Bethlehem-Oos,  ‘n beroep eenparig uitgebring op ds JWL Gebhart,  wat hy dan ook aanvaar.


Na ‘n gesellige ontvangs op 30 Julie,  lewer hy sy intreepreek op Sondagmôre 31 Julie 1966.  Vir ongeveer vier jaar is daar in die ou Truida Kestell skoolsaal kerk gehou,  terwyl die nuwe kerk in aanbou was.  Op 8 Maart 1969 vergader die gemeente op die kerkterrein en word die eerste sooi deur die oudste lidmaat,  oom Hendrik Nel,  gespit.  Op 8 Augustus 1970 word die nuwe kerkgebou feestelik ingewy.  Vir hierdie gemeente was dit hul hartewens dat die veel- betkende naam EUREKA  -  “ek het gevind”  -  waar sal word vir elke mens wat met hierdie gemeente te make kry.  Ons gebed is dat elkeen Jesus Christus as Verlosser en Here sal vind.


Die gemeente is oor die afgelope 44 jaar deur ses leraars bedien.  Ds JWL (Johan) Gebhart was vanaf 1966 tot 1973 hier en daarna het ds JG (Jannie) Lindenberg vanaf 1974 tot 1988 die gemeente bedien.  Ds PR (Philip) Botha was vanaf 1988 tot 1994 hier werksaam.  In 1992 is ds LLB (Laurie) Naudé as Polisiekapelaan aan die gemeente verbind en was hy tot in 199 hier betrokke.  Ds Ferdie Swiegelaar bedien vanaf 1994 tot 2004 die gemeente en sedert 5 Junie 2005 tot op datum is ds Stephen Heyns leraar van die gemeente.


So is ons tans 'n gemeente van die Here wat graag olv die Heilige Gees en in die Naam van Jesus Christus,  'n verskil in die gemeenskap wil maak,  sodat die koninkryk van God die Vader,  sigbaar sal word op elke terrein van die lewe.  Dit begin alles wanneer ons in 'n persoonlike verhouding met Jesus Christus tree en volkome tot sy beskking is,  oral waar ons ons bevind.  Ons visie is dat “almal dissipels” sal wees en motiveer en rus ons lidmate toe om erns van hierdie Groot Opdrag van die Here te maak..


Ons eredienste is ook meer informeel met ‘n musiekbediening wat die lofprysing en aanbid- dings lei,  maar ons bou onwrikbaar op die Woord van God,  die Bybel,  en poog om in die krag van die Heilige Gees,  die warmte en liefde van die Here reeds in die erediens 'n lewende werklikheid te laat word,  sodat elkeen wat teenwoordig is,  God se aanraking sal beleef.


Ons het tans vier swart pastore saam met wie ons drie kerke geplant het op verskillende plekke in Bethlehem en omgewing en een in Paul Roux.  Ons ondersteun ook sendelinge in Mauritius,  Zambië en die Caprivi.  Ons fokus ook sterk op ons jeug en ondersteun twee geestelike werkers by twee van die hoërskole in Bethlehem en is ook finansieel en geestelike betrokke by die kinderhuis in Bethelehem en ‘n tuiste vir hawelose mense.


Stephen Heyns                                                                                                        30 Maart 2010.