Die voorsitter van ons Selgroepbediening is Gerrit de Villiers (082 411 2016).  Daar bestaan tans 16 selgroepe (gemiddeld 10 lede elk) en is ons tans besig met die boufase.  Die bediening is gebaseer op die G12-model met aanpas- sings vir ons situasie.  Ons visie is dat “almal dissipels” moet wees en daarom is die groepe se fokus na buite,  terwyl alle lede ook opgebou word in hulle geloof en toegerus word om uiteindelik ‘n selgroepleier te word.  Ons het gemengde groepe en ook mans en vroue groepe vir jonk en oud.


Een van die groot gevare vir enige kleingroepbediening,  is om na binne gerig te wees en ‘n eksklusiewe “heilige hopie” te vorm waar geen nuwelinge ooit tuis kan voel nie.  Ons mikpunt is dus om groepe te wees wat oop is,  sodat nuwe- linge met ope arms ontvang sal word en gou tuis sal voel.  Elke lid word ook toegerus om voortdurend nuwe mense te wen vir die Here Jesus Christus en hulle dan by ‘n selgroep te laat inskakel.  Wanneer die groep tussen 12 en 15 lede bereik,  is die ideaal dat ‘n nuwe selgroep deur een van die bestaande groepslede gestig sal word.  Hy/sy kan steeds (indien hulle tyd dit toelaat),  by hulle “moedersel” aanbly,  terwyl hulle dan ‘n “dogtersel” op die been bring waar hulle mense weer eens toerus om dieselfde proses te herhaal. 


Ons weet dat dit ‘n steil pad is om te volg,  maar vertrou die Here om die be- diening te laat groei,  sodat elke lidmaat (elke persoon in die dorp) uiteindelik by hierdie opwindende opbouproses betrokke kan wees,  sodat God se koninkryk kragtig kan kom.


Stephen Heyns                                                  26 April 2010